“
Woorde en visse, dink ek. Visse en woorde. En hoe fragiel, die liefde, dink ek met opgehoue asem, en diep nog ’n mossel uit. Hoe diep die see. Hoe seker die voël wat silwer sien flits en fokus en op ’n diep-diep vlak waarvan min mense enigiets weet, aanvoel dat daar iets is om te gryp, en dan duik, af af af, die spieël van die oppervlak breek, steeds af, en die snawel sekuur om die romp van die weerligvissie slaan, en met die dood van die prooi die vermoede van lewe bevestig. Hoe breekbaar die liefde. Soos ’n kuiken op ’n onbegonne krans wat oopbek die onbekende toekoms wil verorber, wat skree en huil en treur vir kos en vir lewe wat nog nie geken is nie, ’n ongeleefde lewe. En later, met ’n sak vol toegeklemde mossels op pad huis toe, die sneeuberge links én regs in die oneindigheid, vlieg ’n woudduifpaar (Hemiphaga novaeseelandiae) verby, hul vlerkval volmaak in pas, hul vlug oos, berge se kant toe …
”
”